Bt nie ál antwoord op kommandowurm

78 keer gelees
Die Bt-geen is nie die alleen-antwoord op die herfs-kommandowurm nie, sê ’n entomoloog.
Boere kan nie net op die Bt-geen staat maak om die herfs-kommandowurm onder beheer te hou nie. Dié spesie is daarvoor bekend dat dit baie vinnig weerstand ontwikkel, teen beide die Bt-geen en chemiese beheermiddels, het prof. Johnnie van den Berg, entomoloog van die Noordwes-universiteit, op Graan SA se kongres gewaarsku. Hy sê daar was wel vanjaar heelwat skade op Bt-mielies deur wurms wat vanaf aangrensende nie-Bt-toevlugsoorde oorgestap het. Boere wat vanjaar deur dié nuwe indringer aangeval is, het op die kongres gesê hulle is heeltemal onkant betrap. Op die Springbokvlakte is tussen 80% en 90% van die sorghum besmet. Vestiging? Van den Berg het gesê hulle probeer nou met die hulp van mot-vlugpatrone en modellerings vasstel of en waar die herfs-kommandowurm in Suider-Afrika gaan vestig. Moontlikhede is Zimbabwe, Zambië en ’n smal strook in ons noordooste en die Laeveld van Limpopo, waar temperature deur die jaar warm genoeg is vir die insekte om te oorleef, en van waar dit die res van die streek dalk voortaan sporadies weer kan binneval. Veral daardie gebied se suikermieliebedryf is dan in gevaar. Die spesie is nie soos byvoorbeeld die Afrika-bolwurm winter-dormant nie. Voorts moet wetenskaplikes ook nou vasstel watter bio-tipe van die spesie hier voorkom. Elders is daar twee – ’n rys-tipe en ’n mielie-tipe. Die mielie-tipe val ook graag sorghum en katoen aan, en die rys-tipe grasse. Die verskillende tipes toon verskillende vlakke van Bt-weerstand. Beheer werk net op klein wurms Van den Berg sê voortdurende nagaan van gewasse vir vroeë opsporing van eiers bly steeds die heel belangrikste beheermaatreël. Grasonkruid-beheer is ook baie belangrik. Alle gewasse moet nagegaan word, asook grasserige gebiede binne en rondom saailande. Chemiese beheermiddels is net doeltreffend teen die wurms as hulle kleiner as ’n 10 sent-muntstuk is. Van den Berg het bygevoeg dat boere nie nou moet ophou Bt-toevlugsoorde plant nie. Dit is besonder belangrik om by daardie praktyk te hou. Hulle ondersoek ook die moontlikhede van biologiese beheer, deur entomopatogeniese parasiete. Dít word byvoorbeeld in Suid-Amerika ingespan. Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeëwaarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê dit is steeds onbekend hoe lank dié plaag al in Afrika is, hoewel die eerste berigte van sy voorkoms in Januarie 2016 uit Nigerië ontvang is. Dit kan wees dat die spesie al veel vroeër die vasteland bereik het. Oos-Afrika ook ingevaar Intussen is die jongste berigte van ooswaartse verspreiding, na lande soos Kenia en Uganda. Sedert Februarie vanjaar is ’n gebied van nagenoeg 6 miljoen vierkante kilometer in Suider-Afrika ingeneem. Dit is ’n kwarantyn-plaag in Suid-Afrika, maar versprei nie saam met droë mielies nie. Daar was tot dusver nog baie min aangemelde besmettings in die Vrystaat, en nog geen in die wintergraangebiede nie, maar dit beteken nie almal hoef nie meer voortdurend op die uitkyk te wees nie. “Inteendeel, ons moet ons monitering-programme versterk. Dié plekke waar dit nie aangemeld is nie, kan dalk gebiede wees waar dit nog net nie raakgesien is nie.” Venter sê die ideaal is om ’n moniteringstelsel in plek te hê waarmee motte opgetel kan word voordat hulle begin eiers lê. “Dan kan jy weet jy gaan binne twee tot drie dae eiers hê, en hulle gaan binne ’n verdere twee tot drie dae uitbroei. Dit is ’n ernstige plaag, maar nie onbeheerbaar nie.” Venter sê hulle moet nog ’n nasionale skadeberaming finaliseer. ’n Taakspan met kundiges uit beide die private en openbare sektor vergader weekliks om die jongste stand van die plaag te bespreek. Berig deur Landbou Weekblad http://www.landbou.com/nuus/bt-nie-al-antwoord-op-kommandowurm/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *