SARS wil dieselrabat tot 100% verhoog

SARS se voorstelle vir ʼn gewysigde dieselrabat is dat boere 100% van die dieselverbruik kan eis en nie net 80% nie.
Boere het nie eenstemmigheid oor voorgestelde veranderinge wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) aan die dieselrabatstelsel wil aanbring nie, soos blyk uit die reaksie by Graan SA se kongres. Die veranderinge sluit onder meer in dat net geëis sal kan word vir diesel wat vir primêre produksie op die plaas gebruik word en nie vir die vervoer van produkte nie. Boere wat ver van leweringspunte is, trek dus minder voordeel. Aan die positiewe kant sal boere 100% van die dieselverbruik kan eis en nie net 80% soos nou die geval is nie. Terselfdertyd sal die terugbetalings losgemaak word van die BTW-stelsel. Boere wat nie vir BTW geregistreer is nie, sal dus ook kan eis. ‘Wil rabat hesien, na 16 jaar’ Mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, het by die kongres gesê die Tesourie en SARS het op 15 Februarie aangedui dat hulle die rabatstelsel ná 16 jaar nou wil hersien. “Graan SA en die georganiseerde landbou bestudeer die voorgestelde wysigings en lede se kommentaar is ook belangrik. Alle kommentaar moet voor 15 Mei by SARS en die Tesourie wees.” Volgens SARS se voorstelle sal vervoer van die plaas af, hetsy na ’n silo, verwerkingsaanleg of mark en enige verwerkingsbedrywighede uitgesluit word vir die rabat. “Hulle stel voor net dieselverbruik wat nodig is vir primêre produksie tot en met die oes kwalifiseer.” Praktiese probleem Wat ook ’n praktiese probleem sal veroorsaak is dat SARS die kwalifiserende primêre produksie-bedrywighede aan ’n fisiese punt wil koppel waar sulke bedrywighede binne ’n radius plaasvind. Louw sê dit is nie prakties nie omdat baie boere op verskillende plekke produseer. “Boere moet ook ’n logboek hou, wat gekoppel is aan die terrein waar die produksie plaasvind en boere sal dan die rabat vir 100% van die verbruik kan eis.” Die huidige rabat verhoog op 5 April van R2,62c/liter tot R2,83c/liter. Berig deur Landbou Weekblad http://www.landbou.com/nuus/sars-wil-dieselrabat-tot-100-verhoog/  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *