Sassa-krisis kan ook landbou raak

Sassa-krisis kan ook landbou raak

Die landbou sal ook geraak word indien maatskaplike toelaes nie op 1 April aan miljoene Suid-Afrikaners betaal word nie.
‘n Dreigende krisis met die betaling van maatskaplike toelaes plaas nie net die stabiliteit van landelike omgewings op die spel nie maar kan ook ‘n groot impak hê op plattelandse markte waar boere hul produkte verkoop. Die kontrak tussen die SA Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en Cash Paymaster Services (CPS), die diensverskaffer wat betaling van maatskaplike toelaes hanteer, verstryk op 1 April en ‘n plaasvervanger is nog nie ingestel nie. Sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners ontvang dié toelae. Volgens mnr. Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom by Agri SA, word plattelandse omgewings en markte oorheers deur arm huishoudings wat oorleef met die hulp van bestaansboerdery, maatskaplike toelae en geld wat familielede van stede af stuur. Buffer teen armoede “Vir baie families in landelike omgewings is maatskaplike toelaes hul enigste bron van inkomste en dit is ‘n buffer teen armoede en wanvoeding,” sê Hlomendlini. “Uit ‘n landbou-perspektief, fasiliteer maatskaplike toelaes ‘n vinnig groeiende tendens van markte vir kleinboere. Sommige boere rig tydens die dae wat maatskaplike toelae betaal word stalletjies op waar ‘n verskeidenheid van produkte en selfs lewende hoenders verkoop word. Ander ry met bakkies rond en verkoop vars vrugte en groente. “Diegene wat meer gehalte produkte kan produseer vestig kontraktuele ooreenkomste met kleinhandelaars wat hulle toelaat om varsprodukte op ‘n daaglikse of weeklikse basis te lewer. Dit help die landelike ekonomie om te floreer, en maatskaplike toelaes speel ‘n belangrike rol in die verband.” Wees pro-aktief Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, waarsku dat die impak van dié krisis op die landbougemeenskap omvangryk is. “As maatskaplike toelaes nie betaal word nie, kan dit bydra tot hongersnood vir baie mense. Dit raak nie net die persoon wat die toelaag ontvang nie, maar ook sy gesin.” Vermeulen beveel aan dat boere deeglik rekord hou van hoeveel werkers en familielede op hul plase woon, want ‘n toestroming van werkloses na familielede wat werk op plase het, kan moontlik voorkom. “Die druk op families wat op plase woon en hulle naasbestaandes bystaan kan toeneem, en dit kan ‘n spiraal van swaarkry laat ontstaan. Dit kan ook druk op boere, waarvan talle werkers maandeliks met voedsel bystaan, verhoog,” sê Vermeulen. Berig deur Landbou Weekblad http://www.landbou.com/nuus/sassa-krisis-kan-ook-landbou-raak/  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *